Biografie

André is gebore op 26 Augustus 1977 in Springs, en hy voltooi sy Laerskool loopbaan aan die Laerskool Werda, sy hoërskool loopbaan aan die Hoër Tegniese Skool Springs. Na skool begin hy werk by die Dawn Groep in die hardeware bedryf, waar hy werksaam was tot 2014 wanneer hy sy musiekloopbaan voltyds begin beoefen het.

André het reeds van kleins af gesing. Toe hy twee of drie jaar oud was leer sy broer vir hom Koos die Groenteman. Daarna het hy nooit weer ophou sing nie. Wanneer hulle by mense gaan kuier het, het hulle altyd gevra Andrè moet sing, en hy het ingestem - in ruil vir betaling.

Die jaar voor hy skool toe is begin André aan kunswedstryde deelneem. Met sy eerste deelname wen hy 'n goue sertifikaat. Verder deur sy laerskool loopbaan neem hy gereeld aan kunswedstryde deel, waar hy gewoonlik goue sertifikate of trofees gewen het. Op hoërskool het hy hom redelik stil gedra

Hy is nie seker wanneer die musiek gogga hom weer gebyt het nie, maar aan die einde van 1998 koop hy 'n baskitaar wat hy self leer speel, en in 1999 begin hy en James saam musiek maak.



James is gebore op 21 Augustus 1971 in Durban, en in 1974 verhuis hy en sy gesin na Springs. Hy voltooi sy laerskool loopbaan aan die Laerskool Werda, en studeer daarna aan die Hoër Seunskool Hugenote. Hy voltooi St. 6, maar weens sy swak sig verhuis hulle na Pretoria waar hy sy skoolloopbaan voortsit by die Prinshof Skool vir Swaksiendes. Na die eerste kwartaal van St. 9 word hy onverwags heeltemal blind en verhuis noodgedwonge na Pionier Skool vir Blindes in Worcester. Na matriek ontvang hy opleiding vir basiese oriëntasie en mobiliteit, en gaan hy terug na Pretoria waar hy verdere opleiding kry in mobiliteit, rekenaarstudie en telefonie by die Optima Kollege vir gesiggestremdes. In September 1994 begin hy werk as skakelbordoperateur by die Stadsraad van Springs waar hy werksaam was tot in 2014 waarna hy nou voltyds sy musiekdroom uitleef.

James is musikaal gebore, maar het nooit enige erns aan musiek gegee nie. In Gr. 2 het hy 'n mondfluitjie present gekry - dit was die eerste instrument wat hy leer speel het. Hy het in Gr. 4 kitaarlesse geneem, maar dit het nie lank gehou nie. In Prinshof het hy saam met twee vriende musiek gemaak - James het mondfluitje gespeel, die een vriend kitaar, en die ander met 'n lepel. Die groot draaipunt kom egter in Mei 1988, nadat hy blind geword het. In 'n drie maande periode tussen oog operasies het hy by die huis gesit en uit desperate frustrasie 'n kitaar gaan uithaal, en homself weer leer speel.

Musiek het in hierdie tyd van emosionele verwarring, frustrasies, aanvaarding en nuwe aanpassings 'n ontsaglike rol in James lewe gespeel. In 1994 begin hy met meer erns homself toespits op die kitaar. Gedurende 1997 begin hy sing - iets wat hy nooit gedink het hy sou doen nie. Dit het net beter gegaan, en in 1999 begin James en André vir die eerste keer saam musiek maak. Waarom, kan hulle tot vandag toe nie onthou nie.

James en André begin saam sing met James as eerste stem en André as tweede stem; James op akoestiese kitaar en André op arkoestiese baskitaar.

Hulle sing by enige geleentheid waar hulle kan, en hulle eerste groot geleentheid was 'n uitnodiging om by 'n pizza restaurant in Benoni te sing. 'n Woensdagaand met 'n "pizza special", want dan is die plek gewoonlik vol. Gewapen met hul klanktoerusting, kitare en 'n repertoire van omtrent twintig liedjies, sing hulle daardie aand vir 'n volle skare van drie.

Soos die tyd verloop het hulle meer gegroei, en het later in meer kroeë en restaurante opgetree. In November 2000 reël James en André hulle eerste konsert in die Stadsteater in Springs. Dit was vir hulle 'n ongelooklike ervaring, en hulle het geweet hierdie ding is soos om sop te eet met 'n vurk - jy kry net nooit genoeg nie. Hulle het weer konsert gehou in Maart 2003, en ook in November 2005.

Gedurende 1999 het James sy eie liedjies begin skryf. "Dis iets wat ek altyd wou doen, maar ek het gedink ek kannie. Ek het keer op keer probeer, maar elke keer my pogings weggegooi, tot daardie goue dag aangebreek het toe ek my eerste liedjie skryf wat goed genoeg was om vir ander mense te sing. Vir my gaan dit daaroor dat as jy iets een maal kan reggkry, jy dit weer kan doen. Van my geboorte af het ek letterlik en figuurlik 'n duisend paaie gestap. Nie net met musiek nie, maar ook die emosionele stryd om my blindheid te aanvaar en voort te gaan met my lewe."

In 2002 skryf hy die liedjie Duisend Paaie, wat later die titelsnit van hulle eerste album sou word. In 2008 het hulle uiteindelik die stap geneem, en met behulp van verskeie borge en ondersteuning word hul eerste album opgeneem, en vrygestel in Mei. In dieselfde week hou hulle 'n konsert in samewerking met die Visiontrust.

Vir baie jare het hulle met die droom geloop om 'n huldeblyk album vir Groep 2 op te neem en in 2010 word hierdie droom uiteindelik waar. 'n Album word gebore met die titel Dankie Groep 2. Met hierdie album kry hulle 'n kontrak by Vonk Musiek wat ook hulle eerste musiekvideo uitreik. Hierna volg televisie verskynings op Jukebox en DKNT. Talle radio onderhoude word hierna gedoen en verskeie radio stasies landwyd speel van hulle musiek.

In Augustus 2012 word hul nuwe album "Volmaakte klanke" uitgereik wat hoofsaaklik oorspronklike liedjies bevat. Nog 'n musiekvideo sien die lig asook televisie verskynings op Jukebox, Deur die lens, Toks en Tjops en JAM. Verskeie optredes het hierna gevolg onderandere die VONK toekennings geleentheid, Oos Rand Stereo opskop, optedes by feeste soos aardklop, klipkoppie fees, Jansie fees en nog vele meer.

Hulle beplan reeds 'n volgende album, maar tot dan maak hulle dit hul missie om in elke uithoek van Suid-Afrika en Namibië op te tree.